Waar die Hart van Vol is...(Nuutste)

JOU SONDE IS VERGEWE!

Sy was ‘n uitgeworpene, weggegooi deur die gemeenskap as ‘n stuk vuilgoed wat op die ashoop hoort. Net die mans wat in die donkerte graag die ashoop besoek het, het haar gebruik vir hulle eie behoeftes, verder was sy vermy. Wie weet, miskien het sy tog op die buitekringe van die skare iets van Jesus se prediking gehoor. Ons ontmoet haar waar sy, die besoedelde, die sondares, dit gewaag het om die huis van ‘n Fariseër binne te gaan. Iets totaal ondenkbaar! Fariseërs was heeltemal té godsdienstig, hulle het niks met sondaars te doen gehad nie en dáár het sy ingegaan om by Jesus uit te kom. Het sy vergeet van die klad op haar naam en die skande van haar selfgekose lewenstyl? Dit was juis oor die klad en die skande waarom sy Jesus kom opsoek het.

Lees Verder »

NIMMERDIK

Met een van die honde op die plaas kon my ma net nie regkom nie. Suurlewiet was sy naam. Sy onversadigbare vreetlus het my ma dwars in die krop gesteek. Vir haar was dit amper soos ‘n lyding in haar binneste wanneer mens of dier moes swaarkry omdat hulle honger of dors was. Sy het selfs in die middel van die nag opgestaan as sy hoor dat ‘n kalf in die beeskraal aanhou bulk. Vir haar was dit duidelik dat die kalf dors moes wees. Die kraalhek is oopgemaak dat die kalf by die krip kon uitkom om sy dors te les. Met die kalf weer veilig in die kraal het sy na haar onderbroke slaap teruggekeer. Een oggend na ontbyt was ons in die kombuis besig om op te ruim.

Lees Verder »

HOEKOM HOU MENSE NIE VAN MY NIE?

Dit het nie geklink asof sy haar self bejammer nie, selfs ook nie eers verbitterd was nie. Sy was nog glad nie oud en afgeleef nie, daar was nog baie energie in haar. Sy het die vraag gevra soos een wat skielik oor haar eie lewe begin dink het en oor wat om haar omgaan, want sy was gewoonlik iemand wat heel gelukkig was met haarself en haar doen en late.
“Hoekom dink jy dat mense nie van jou hou nie?”
“Ek is altyd alleen, niemand kom kuier nie. Mense sal verby ry, maar nie stop om in te loer nie. Dit was toe ek nou so siek was dat ek opgemerk het dat daar nie oproepe is om te hoor hoe dit gaan nie, of ‘n buurvrou wat kom hoor of alles reg is nie. Ek het net begin wonder hoekom mense dan nie aan my dink nie, nie van my hou nie.”

Lees Verder »

Boeke om te lees

Vanuit ‘n weduwee se pen

Die Stilgemaakte Hart

Om skielik weduwee te word is ‘n ingrypende gebeurtenis in ‘n vrou se lewe. Dit is soos ‘n ysterhand wat jou innerlike in ‘n greep beetkry en nie weer wil skiet gee nie.
Lees gerus die storie van die pad wat ek geloop het op soek na ‘n hart wat stil geword het onder die hand van die Een wat my weduwee gemaak het.

Die Belofte

Dit is een van daardie stories wat lank geklop het om tog uitgelaat te word. ‘n Storie wat ek net moes skryf. Maar dit bly ‘n storie al is daar karakters in wat werklik geleef het. Die hoofkarakter is God, die Skepper van Adam en Eva en die belofte wat Hy aan hulle gemaak het.
Dan spring die storie oor na die vervulling van daardie belofte eeue later.

Korter Verhale

Dibri

“Foeitog, het jy uit die nes geval?” Dibri tel die voëltjie op en voel hoe die hartjie teen sy vingers klop. Hy laat dit in sy bak hand sit en bekyk dit van alle kante. Die voëltjie het ‘n gesonde veredos en lyk asof dit gereed is om te leer vlieg. Dibri kyk op in die boom, maar kan glad nie ‘n nes sien nie. Hy loop na die klein stroompie wat dig teen die boom verby vloei, druk sy vingers in die water en drup dit op die voëltjie se bekkie.

“Is jy uit jou nes geskop? Hou jou ma nie van jou nie? Toemaar wat, dit maak dan twee van ons. Ek is ook nie welkom in my ouma se huis nie, sy hou niks van my nie. Sy sê ek lyk nes my pa. Miskien lyk jy ook nes jou pa. Ouma hou ook nie van my pa nie.”

Hy druk die voëltjie teen sy wang en vryf dan saggies met sy voorvinger oor die koppie. “Ek ken nie my pa nie. Ook nie my ma nie, sy is dood. Daar is net Ouma en sy raas altyd met my. Ek probeer so hard, maar ek doen niks reg nie. Ek sal vir jou sorg, dan kan jy leer vlieg en dan gaan stap ons daar ver agter my pa se witklip, waar niemand met ons sal raas nie. Ek was nog altyd te bang om op te klim na die witklip, my ouma sê daar bly spoke. Maar as jy saam met my gaan, dan gaan klim ons daar rond. Kyk, hier praat ek nou so baie en jy is seker honger? Kom ek vat jou saam dan gaan haal ek koring uit die kruik daar in die kombuis.”

Dibri lag skielik vrolik en hou die voëltjie reg voor sy gesig: “Ek is nie so dom nie! Ek weet mos jy kan nog nie ‘n heel koringkorrel insluk nie, ek sal dit fyn kou en dan sal jy dit kan inkry.”

Dibri druk die oorhang takke weg en stap uit die koelte van die boom in die middagson in. Ouma sit buite in die skaduwee van die huis met haar rug na hom toe. Die buurvrou is daar by haar. Hulle sien hom nie en hy glip stilletjies by die deur in. Toe hoor hy dat hulle van hom praat. Dikwels merk hy op dat mense ophou praat wanneer hulle hom sien, maar nou weet Ouma nie dat hy hier agter haar rug staan en luister nie.

Lees verder…

Joshua

Die son sit al hoog, maar vandag maak die sonstrale hom nie warm nie. Joshua sien dat sy ma haar tjalie stywer om haar trek en besef dat sy ook die koue voel. Hy rek doelbewus sy treë om in te val by haar pas, want hy durf haar nie tussen die skare uit die oog verloor nie. Toe iemand hom ongeduldig uit die pad stamp, gryp hy instinktief na sy ma se hand en kyk verskrik op in haar gesig. Sy kyk af en glimlag gerustellend. Hy ontspan. Sy ma is sy toevlug tussen al hierdie vreemdelinge. Sy weet dat hy nie die voetstappe en stemme van almal om hulle kan hoor nie, en sy weet ook dat dit hom bang en onseker maak. Hy hou niks daarvan om tussen hierdie groot klomp mense te wees nie en hy begryp ook nie waarom sy ma hom op so ‘n lang reis saamneem nie. Hulle stap al van sonop vanoggend en hy sien hoe die skare net groter en groter word.

Sy ma stoot hom sag na die kant van die skare en toe eers merk hy dat hulle besig is om teen ‘n heuwel op te stap. Sommige mense het selfs al daar heel bo gaan sit. Toe hulle ook die top bereik, vat sy ma sy hand in ‘n stewige greep vas en baan vir hulle ‘n pad tussen die sittendes deur. Hy volg haar en probeer versigtig om op niemand se klere te trap of oor iemand se bene te val nie.

Uiteindelik is sy ma tevrede, gaan sit en trek hom langs haar neer. Hy sit styf teen haar en kyk belangstellend na die mans wat op groterige rotse reg voor hulle plaasgeneem het. Een van die mans is besig om te praat. Nie dat Joshua hom kan hoor nie, maar van al die mans daar, is dit net sy lippe wat beweeg. Joshua se oë bly vasgenael op die man se gesig, op die vriendelikheid wat van hom uitstraal, op die manier hoe hy sy hande beweeg terwyl hy praat. Hy is anders as al die ander.

Toe kyk die man skielik reguit in Joshua se oë. Joshua, die seun wat doof gebore was en vir elf jaar lank net deur sy oë kan waarneem wat aangaan. Hulle twee se oë ontmoet en die man wink vir Joshua om na hom toe te kom. Sonder om eers aan sy ma te dink, spring Joshua dadelik op en stap vorentoe met die grootste vrymoedigheid. Hy vertrou hierdie man en iets in hom trek die seun aan.

Lees verder…

 © Heart at Rest

afAfrikaans